# Week 10: Dadelblokkies

Source: https://www.voorskootstories.co.za/week-10  
Last updated: 2025-11-01

#### **10 wekies! 🍂**

Kwartpad… 😳 Kan dit rêrig al wees?! 

Baba-lyfie is hierdie week so groot soos ’n **dadel**. Ek het net vaagweg genoem dat die week se baba-blog plan met die dadels is om dadelblokkies te maak, en ek neem aan ouma-to-be Carmen wou nie uitmis op hierdie rondte nie… want toe ek weer sien, staan daar ’n CheckersSixty60-mannetjie met bestanddele wat by hulle huis afgelewer word 🤭.

My gunsteling weergawe van dadelblokkies is dié met Rice Crispies vir ’n ekstra *snap, crackle en pop*. Ek maak dit natuurlik sonder neute (maar dié kan vir seker bygevoeg word as jy wil). Ek het die kombuis ingevaar en begin werskaf, maar halfpad deur hoor my skoonma duidelik hoe ek soek en soek in die kaste. Op ’n stadium vra sy: “Kan ek help?”… en toe ontdek ons die kakaopoeier is op! Vir hierdie rondte moes ek dus ’n bietjie improviseer en hot chocolate gebruik.

Die resultaat? ’n Ligte, melkerige twist op die klassieke resep. Dalk nie so donker van kleur nie, maar steeds net so lekker en taai 🤤

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/7fb3354d1a-img-1889.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/d2a5f2a488-img-1890.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/53b9462a1d-img-1891.jpg)

---

### Dadelblokkies 🍂

#### Bestanddele

- 500 g Botter
- 1 kg Versiersuiker
- 500 g Gekapte Dadels
- 4 E Kakao
- ½ tl Kaneel
- 2 K (160 g) Klapper 
  - Asook ekstra klapper vir versier
- 4 Eiers
- 2 tl Vanieljegeursel
- ¼ tl Sout
- 250 g Mariekoekies, grofgekap
- 5 K (150 g) Rice Krispies

#### Metode

1️⃣ Smeer ’n **30x45 cm oondpan** met ‘n bietjie botter

2️⃣ Strooi ’n lagie **klapper** oor die bodem

3️⃣ Smelt die **botter** en **versiersuiker** saam oor lae hitte (net smelt, moenie laat kook nie)

4️⃣ Voeg die **dadels, kakao, kaneel** en **klapper** by en kook vir 3–5 minute oor matige hitte

5️⃣ Klits die **eiers, vanielje** en **sout** saam en voeg dit by die warm mengsel

6️⃣ Roer die **koekies** en **Rice Krispies** by en meng goed deur

7️⃣ Druk die mengsel in die voorbereide pan, maak die bokant mooi gelyk en strooi bietjie klapper bo-oor

8️⃣ Laat dit by kamertemperatuur afkoel

9️⃣ Sny in blokkies en sit dan in die yskas om hard te word

---

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/c34eb5ecb9-dadelblokkies.png)
