# Week 17: Kibbeh

Source: https://www.voorskootstories.co.za/week-17  
Last updated: 2025-10-23

#### **17 wekies!** 🧅

Volgens die apps is babalyfie nou so groot soos ’n ui. Nou die ding is… my man hou nie eintlik van uie nie 🙈. 

Ek het dus begin google vir ander vrugte of groente groottes vir 17 weke en toe kom ek af op ’n granaat. Maar toe hy sien ek is besig om te soek, gryp hy sommer self in en sê: “Maar wat van *Kibbeh*?” 😅

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/55e1e81f87-img-3728.jpg)

Kibbeh was een van sy oupa George (‘n half Libanese) se *signature dishes* en ‘n groot treffer onder die Jouberts.

Kibbeh (of *kubbeh*) is basies ’n tradisionele Libanese gereg wat bestaan uit ’n mengsel van bulgur koring, maalvleis (gewoonlik lam of bees) en natuurlik baie, baie uie (veral as jy die in die tamatie-slaai bygereg ook in tel). Dit kan op verskillende maniere gemaak word:

- **Gebak** in ’n groot oondskottel soos ’n vleis-lasagne.
- **Gevul** en in balletjies of patties gevorm, wat jy kan braai of bak.
- **Rou** (ja, soos steak tartare!) wat met vars kruie en olyfolie bedien word…*ons los dit egter vir my brawe 1/4 Libanese skoonpa, ek weet nie so lekker van die rou vleis nie* 😳

Elke Libanese familie het hulle eie twist - ander speserye, verskillende hoeveelhede koring, fyner of growwer vleis, of ’n spesiale manier van vou en vul. Vir oupa George was dit die gebakte weergawe, en in 2020 het ons spesiaal vir ’n naweek by hulle gaan kuier sodat hy my die *regte Joubert manier* kan leer. Ek sal nooit vergeet nie: stap 1 van die resep was “sny die uie” En ek sit daar en dink: “Uhm… my verloofde eet dit?!” 😂 Maar ja, blykbaar maak Kibbeh uie heeltemal aanvaarbaar.

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/506bf7ebc5-img-3737.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/d0067ccf71-img-3739.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/e2d17bc673-img-3746.jpg)

Ek is so dankbaar ek kon saam leer en deel raak van daardie kombuis-erfenis. Dis iets besonders om geregte te hê wat deur geslagte oorgedra word — dis eetbare familie-stories. En ek het lekker baie sulke *stories* 😇

En nou, op week 17, is dit sommer ons *baba se size milestone dish* 📏🍽️

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/4d29a4ebfb-img-3749.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/d08e55d94f-img-3752.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/3814bd2f89-img-3755.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/312828977a-img-3757.jpg)
