# Week 20: Banana Split Wafels

Source: https://www.voorskootstories.co.za/week-20  
Last updated: 2025-11-15

### **20 wekies! 🍌**

HALFPAD! Whateven?! Ek kan nie glo ons is al hier nie.

Baba-lyfie is hierdie week so groot soos ’n piesang, en ek dink dis net té gepas dat die tema van die hele week geel is 💛💛💛

Ons het begin verf aan die babakamer, en een van die mure kry ’n mooi sagte geel kleur. Tipies dink mens eerste aan pienk vir ’n dogtertjie, maar ek en my man is beide só mal oor geel…ons het selfs geel elemente by ons troue gehad.

Geel is vrolik en warm. 

Dis sonskyn en suurlemoen. 

Dis sommer net *happy*. 

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/76227b4a08-img-8121-2.jpg)

En dis ook die kleur van die week se **piesang** 🍌

Ek het besluit wafels met roomys en gekarameliseerde piesangs klink na die perfekte halfpad-*celebration* food. Natuurlik saam met lekker baie sjokoladesous en sprinkles. Dit was die perfekte Maandagaand-bederf wat ek beslis gaan onthou as ons stoute “halfway there”-aandete 🎶

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/2f4e00dbae-ec2449f8-feaf-4efa-b061-04e1376755a8.png)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/164d91aa47-img-8135.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/236d3c6b09-804be5d2-0e8b-44ea-9a8a-2de43428a447.png)

Dis ongelooflik om te dink hoe vinnig dinge gebeur, van die klein kolletjie op ’n skerm, tot nou ’n piesang-grootte baba en ’n kamer wat stadig maar seker in ’n babakamer verander 💛

---

### **Wafels met Gekarameliseerde Piesangs 🧇🍌🍦**

#### Bestanddele

- Tuisgemaakte Wafels (*resep volg* 😉⬇️)
- 2 ryp Piesangs, in lengte gesny
- 2 E Botter
- 2 E Bruinsuiker
- Roomys
- Sjokoladesous
- Sprinkles / Sweeties

#### Metode

1️⃣ Verhit die botter in ’n pan

2️⃣ Voeg die piesangrepies by en laat dit ’n minuut of twee braai in die pan 

3️⃣ Strooi bruinsuiker oor die een kant, draai om en laat karameliseer, herhaal dan aan ander kant tot albei kante goudbruin is

4️⃣ Bedien warm oor wafels met ’n bol (of 3…) roomys, sjokoladesous en sprinkles bo-oor

### Wafels **🧇**

#### Bestanddele

- 2 K Meel
- 2 E Suiker
- 3 tl Bakpoeier
- ½ tl Sout
- 1½ K Melk
- 3 Eiers, geskei
- 2 E Botter, gesmelt

#### Metode

1️⃣ Sif die droë bestanddele saam

2️⃣ Voeg melk en eiergele by

3️⃣ Voeg gesmelte botter by

4️⃣ Vou styfgeklopte eierwitte in

5️⃣ Bak in wafelpannetjie

---

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/2f574c0dc0-wafels-mamma-patricia.png)
