# Week 24: Mamma se Mieliebrood

> Gooi mielies! Gaan groot, geniet die lewe, geniet jou mense en mors lekker baie krummels.

Source: https://www.voorskootstories.co.za/week-24  
Last updated: 2025-11-15

### 24 wekies! 🌽

Ons baba-lyfie is die week so lank soos ‘n mielie.

Mielies laat my altyd aan my moeder dink, sy is MAL oor ‘n mielie! My man was behoorlik verstom toe hy die eerste keer sien hoe die *tannie* wat oor die algemeen klein porsies eet mielies kan inryg 🤭

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/eee5a8e4b7-img-5528.jpg)

Ons gaan beslis êrens die week ‘n mielie  saam met ‘n gebraaide vleisie ook geniet, maar vir die baba-foodie-blog het ek besluit om my ma se mieliebroodjie bak 🌽🍞

Dis vinnig, eenvoudig, en perfek saam met ontbyt, braaivleis, of sommer net warm uit die oond met botter wat stadig in die **krummels** in smelt 🤤

*Terloops, hierdie broodjie maak baie krummels. Jy was gewaarsku* 😜

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/7354521f06-img-4967.jpg)

In my ouerhuis was daar altyd êrens krummels. Krummels beskuit op my ouers se bed waar ons almal sit en oggend-koffie saam geniet het. Krummels brood op die kombuisblad as iemand vir homself ‘n toastie gemaak het. Krummels koek en suiker op die kombuisvloer as Christi iets gebak het. Krummels onder die eetkamertafel waar ons elke ete saamgesit en smul het.

Krummels. Hulle kan dalk irriterend wees om op te vee…maar eintlik is dit ’n teken van ’n goeie tyd. Waar daar gelag, gekuier en lekker geëet is, is daar altyd ’n spoor van iets agtergelos, ’n bewys dat mense saam was.

In die lewe los ons ook krummels vir mekaar:

wysheid, raad, herinneringe, klein oomblikke van liefde en genade.

En wanneer jy soms nie weet hoe om vorentoe te gaan nie, kan jy terugstap, daardie spoor van krummels volg en ontdek dat jy, heeltyd, meer as genoeg gehad het: mense, liefde, leiding, en genade om elke draai.

So gooi **mielies**!

Leef voluit.

Geniet jou mense.

Lag hard.

Laat die botter smelt en laat die krummels val, dis die tekens van ’n mooi lewe.

---

### **My Ma se Mieliebrood 🌽**

*Prep Tyd:* 15 min  |  *Bak Tyd:* 25 min  |  *Maak:* 1 broodjie

#### **Bestanddele**

- 1 K Mieliemeel
- 1 K Meel
- ¼ K Suiker
- 3 tl Bakpoeier
- 1 tl Sout
- 1 K Melk
- 1 Eier
- ¼ K Olie

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/f889d70fcf-img-4955.jpg)

#### Metode

1️⃣ Voorverhit die oond tot 220°C (425°F)

2️⃣ Meng die mieliemeel, meel, suiker, bakpoeier en sout

3️⃣ Klits die melk, eier en olie in ‘n aparte bak

4️⃣ Meng die nat en droë bestanddele

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/4aba24815d-2bf20007-2d99-4eea-be7d-fa57476f2c1f.png)

**5️⃣ Vir Brood:** Giet die beslag in ‘n broodpan (of oondvaste bake) en bak vir ⏰**20-25 minute**; 

**Vir Muffins:** Skep die beslag in ‘n muffinpan, maak die holtes so ⅔ vol en bak vir ⏰**15-20 minute**

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/a58c2b19ee-00a0b6e4-cfe3-405c-868e-bff607931352.png)

6️⃣ Geniet! Hy is lekker met net ‘n bottertjie op, met heuning of jêm vir die soettande, óf vir die souttande saam met kaas, Bovril/Marmite, of met die lekker pan-sous wat oorbly na ek boerewors in die skillet gemaak het soos vanoggend 😉

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/ce053d02c8-img-4965.jpg)
