# Week 33: Mamma se Sweet & Sour Pork Chops

Source: https://www.voorskootstories.co.za/week-33  
Last updated: 2026-01-16

#### **33 wekies! 🍍**

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/586c2f54f3-img-7101.jpg)

Hierdie week is Gabi so groot soos ’n **pynappel** 🍍

’n Lekker *versatile* vrug wat in beide soet en sout disse gebruik word. Ongelukkig is dit vir baie mense (insluitend myself) ‘n problematiese vrug wat jou mond laat jeuk 😬

In meeste gevalle is dit te danke aan ’n ensiem genaamd **bromelain**, wat proteïene afbreek (ja, letterlik jou mond se weefsel ’n bietjie begin “verteer”), of aan **profilin**, ’n proteïen wat by party mense ’n ligte allergiese reaksie veroorsaak, veral as jy ‘n hooikoors of stuifmeel-allergieë het.

Die goeie nuus is wel dat **gaar pynappel** veroorsaak gewoonlik nie die jeuk nie, want hitte breek daardie ensieme en problematiese proteïene af.

Dis hoekom ek pynappel baie graag gaar **in geregte** eet, maar selde rou.

Een van my gunsteling pynappel-geregte is my ma se **Sweet & Sour Varktjops,** en snaaks genoeg was hierdie die **eerste keer** dat ek dit só vir my man gemaak het.

Elke familie het mos “reëls” oor sekere kosse 😄

By die Jouberts is daar net **een manier** om varktjops te maak:

goed gespice met Oupa George se spesiale speserymengsel, oor die kole gebraai, en dan… tussen twee snye **witbrood** gedruk en met die hand geëet.

Wanneer ons dit só maak sny ek graag die vet met ’n skêr in blokkies sodat dit ekstra crispy braai, en drup ons ook vars suurlemoensap oor die tjop terwyl hy nog op die vuur is. Daardie varksappe wat in die brood intrek is **onbeskryflik lekker.**

My Kruger-gesin het weer heel ander *approaches* tot varktjops gehad.

Dit was óf:

- gekrummel en gebak, bedien met mash en appelmoes
- óf, hierdie **sweet & sour weergawe** met geblikte pynappel

En dis juis laasgenoemde wat ek vir **Week 33** gemaak het en dit bedien met lekker **sticky sushi-rys** 🍚🍍🤍

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/b5f9a7c831-img-7493.jpg)

*Ons Gabi-projekkie vir week 33 was om haar kot te bou 🤩 My man het lekker vir my gelag wat reken al die verskillende boekies en stappe laat dit voel soos grootmens-LEGO bou 🤭*

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/383e776886-baby-blog-banners-4.png)

---

#### **Sweet & Sour Varktjops**

**Bestanddele**

- 4 Varktjops
- 2 E Olie

**Sous**

- 1 Ui, gekap
- 1 Knoffelhuisie, fyngedruk
- 1 E Mielieblom
- 1 Blikkie Crushed Pynappel
- 2 E Tamatiesous
- 1 E Sojasous
- 1 E Asyn
- 1 tl Kerriepoeier
- 1 tl Suiker
- ½ tl Peper
- ½ Suurlemoen se Sap
- 1 Beef Stock Cube
- 1 K Kookwater

**Metode**

1️⃣ Braai die tjops in olie aan beide kante tot bruin en plaas dan in oondbak

2️⃣ Braai die ui en knoffel in dieselfde pan tot sag en gooi dan die mielieblom bo-oor

3️⃣ Voeg die pynappelstukkies met die sap, tamatiesous, asyn, soya, suiker, kerrie, peper en suurlemoensap by en laat prut

4️⃣ Los die beef stock cube op in kookwater en voeg by die sous, meng goed

5️⃣ Kook oor lae hitte vir so 5 min, roer heeltyd

6️⃣ Verwyder van hitte en gooi oor die tjops

7️⃣ Bedek en bak vir 1 uur in oond op 180°C

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/9ac4d9ce58-img-7472.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/137c57474c-img-7473.jpg)

![](https://www.voorskootstories.co.za/_assets/media/5a191328f9-img-7482.jpg)
